Die sanger / liedjieskrywer André Swiegers is 14 Februarie 1958 in Brakpan gebore, het ook daar skoolgegaan. Hy onthou hoedat hy Sondae aande na die LM-hitparade in sy bed lê en luister het, en kunstenaars soos Elvis, die Beatles, Rolling Stones, Beach Boys, Simon & Garfunkel ontdek het. Koop sy eerste kitaar in 1974 vir R17.50 en begin geesdriftig akkoorde leer en songs te skryf in Engels.
Gedurende 1976 doen hy militêre diensplig. Ontvang sy basiese opleiding in Potchefstroom, lê ook die lugmag vlieënierstoetse in Pretoria af, en slaag, maar besluit om nie met sy vliegopleiding voort te gaan nie. Hy word later verplaas na JARIC (Joint Air Reconnaisance Intelligence Centre, Zwartkop Lugmagbasis) waar hy as fotovertolker gedurende die Angola-grensoorlog diens verrig het.
Aanlegtoetse het daarop gedui dat André ‘n kursus in argitektuur of beeldende kunste behoort te volg. Hy het egter teen die voorgestelde opsies besluit en vir ‘n BA (Sielkunde & Bybelkunde) kursus ingeskryf (1977). Sy finale eksamens (1979) moes eers wag, aangesien André genooi is om die hoofrol teenoor Sonja Heroldt te in die film “Sing vir die harlekyn” te vertolk. Gedurende hierdie tyd het hy vir Anton Goosen ontmoet – wat meeste van die musiek vir die film geskryf het. André het sy finale eksamens saam met die her-eksamens afgelê en sy graad behaal.
1980. Hy besluit om sy stokperdjie as “signwriter” sy dagberoep te maak, en doen sy eerste “professionele” musiekoptrede by die Stasie Hotel in Brakpan en word R10 beloon vir die optrede. Sy dagberoep brei uit en hy raak al hoe besiger met musiekoptredes in die aande. Desember 1985 trou hy en verhuis 2 jaar later na Pretoria (waar hy steeds woon). Hulle eersteling (Jean) is 4 Oktober 1989 gebore, en Emile op 29 Julie 1991.
Die voorstel van ‘n vriendin aan hom, om meer in Afrikaans te skryf en te sing, het aanleiding gegee tot die song “Blou”. Laurika Rauch het dit aanvanklik opgeneem, en 12 jaar later het André en Réana Nel dit weer as duet opgeneem.
Einde 1992 staak hy sy musiekoptredes, maar hou aan met liedjies skryf.
Hy besluit in 1994 om ‘n album (Tablature) in Engels op te neem, onder die naam Squire Blue (Casper de Vries was deel van die span wat help naam kies het). Arnold Coleske en Harold Schenk was André se medevervaardigers. Die Coleske’s het André genader om te help met die skryf van lirieke vir vir hul nuwe album. ‘n Paar jaar later tref “Take me where the sun is shining” Europa. Dit styg tot bo aan die trefferparades in in verskeie lande. Gedurende die laat negentigs word die liedjie deur SAMRO aangewys as een van die twaalf grootste Suid-Afrikaansetreffers die afgelope veertig jaar.
Sy huwelik beland op die rotse (1998). Hy beeindig sy besigheid (Incredible Signs) en begin weer voltyds musiek maak.
Die Swiegers / Coleske komposisie “Aphrodite”(soos gesing deur Coleske) word deur SAMA vereer as een van SA se top 10 liedjies vir 2001.
André het nog nooit ingeskryf vir die SAMA toekennings nie, maar sy album “Sirkels van tyd” was wel vir die Geraastoekennings (2005) ingeskryf en dit het aan hom twee toekennings besorg – beste volwasse kontemporêre album, asook beste vervaardiger van ‘n Afrikaanse album.
Bekendste werke:
Blou, Eva, Jammer om te hoor, Turn on the light, Take me where the sun is shining, Aphrodite, Twee feilbare mense, 1966 VW Beetle Blues, Hoe draai die wind dan nou, Jy doen dit vir my, Sirkels van Tyd.
Kunstenaars wat van sy werke opgeneem het:
Coleske, Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Mathys Roets, Georgia, Irene van Wyk, Pieter Smith, Danie Niehaus, Amanda Luyt, Andriëtte Norman, Jaco Labuschagne, Guillome, ens.
Diskografie:
1994: Tablature (onder die naam Squire Blue)
Hierdie album is in 2006 hervrygestel onder die album titel “Squire Blue” (André Swiegers)
2001: Confessions
2002: Blou
2003: Turn on the light
2004: Die sirkels van tyd
2005: Monica
(Kunstenaar: Monica) André het meeste van die liedjies daarop geskryf en die CD vervaardig.
2006: Groen
2008: Folk Buddies
(saam met Lucas Maree & Mathys Roets) is pas vrygestel.
André beplan om ‘n nuwe album later die jaar / vroeg volgende jaar op die rakke te hê.
Besoek Andre Swiegers se eie Webwerf

